Saturday, June 19, 2010

19 Junie 2010

Gedaan, gaar, moeg... dis ek vanaand.

Nico slaap reeds laaankal - die mannetjie is regtig olik. Vandag weer 'n paar honderd rand in Scottburgh se apteek spandeer. Ons is al vir amper twee maande in ons 'self-payment gap' by die Mediese fonds, so ek moet maar opdok. So ek het hom goed gedose. Hoop hy voel beter na 'n goeie nagrus.

Agv van sy olikheid, het ons toe nie gebraai nie. Nico het 'n hot dog gekry, terwyl ek maar die krummelpap met mielies in vir aandete gehad het. Nog steeds koningskos! Kon darem 'Disgrace' klaar lees - briljant, maar terrible.

Dieselfde DVD player wat ek gister so opgehemel het, het vanaand amper groot moeilikheid veroorsaak. Nico kyk en kyk sy DVD en staan nie op om badkamer toe te gaan nie. Toe ek hom uiteindelik kry om te beweeg, is dit toe natuurlik te laat en daar piepie meneer homself, sy badsakkie en die vloer van die toilet heeltemal nat. nie so groot probleem nie, sal jy se, maar hoe gemaak as mamma nou nie eintlik kan assisteer in die Mans-badkamers nie? Hom toe maar so gecoach-coach deur die venster terwyl sy trane loop en my hart breek oor my seuna wat te vroeg op sy eie voete moet staan. Die man het dit darem oorleef, maar ook net-net :)

En more is Vadersdag. Ek sal dat Nico sy pappa bel om hom 'n mmooi dag toe te wens, maar diep binne-in my sal dit seer wees. Seer, oor die Pa-rol wat ek nie WIL vervul nie, maar meestal nie 'n keuse het nie, seer vir my seun wat sy pappa definitief mis. Toe Nico jonger was (so 4-tot nog einde verlede jaar), het hy gereeld vertel: my pappa doen dit, my pappa doen dat, so hy kon ook lekker spog en grootpraat by sy maatjies. Hierdie jaar het ek begin agterkom hy doen dit nie meer nie. Hoekom nie? Die kontak met sy pa is so min en ongereeld, dat my kind nie meer genoegsame kennnis oor sy pa het nie! Tot einde verlede jaar het sy pa (met sy nuwe vrou en hulle baba-seuntjie) nog 'n Parys gebly, so afstand was 'n probleem. Nou bly hulle egter ongeveer 25km van my af, ook in Pretoria, en eintlik sien Nico sy pa nou MINDER as in die verlede. Sy pa bel hom ook baie ongereeld - soveel so dat Nico soms vir lank nie wil antwoord as sy pa besluit om wel te bel nie. Sy pa het hom nog NOOIT gereeld gebel nie. Maar laasjaar, nadat 'n sielkundige aanbeveel het dat sy pa hom ten minste 3 keer per week moet bel, het ek gehoop dit sal help. Moenie glo nie. (Die hele sielkundige-ding is ook 'n goeie onderwerp vir 'n gesprek op sy eie, meer daaroor op 'n ander dag)

So speel seuna Bulletje-rugby in Gr.1 vanjaar. Die dag toe die wedstrydrooster vir die seisoen uitgekom het, het ek onmiddellik sy pa ge-email EN per sms laat weet ek het 'n email gestuur (tot vandag het ek nog nie EEN reply op een van my mails gekry nie). Hy was dus deeglik bewus van die skedule. Soos baie ander in ons situasie, is die reeling ook dat pa vir seuna elke tweede naweek kry. sou daar dan sport / partytjies of wat ookal plaasvind, is dit dan daardie ouer se verantwoordelikheid.

Wil net byvoeg - Rugby is Nico se lewe. As hy in die oggend wakker word, is die bal onder die arm. So breek die tweede laaste wedstryd van die seisoen aan en Nico gaan die naweek na pappa toe. Ek vind die Donderdagaand uit dat pappa nie van plan is om vir Nico Saterdag rugby toe te vat nie!!!!!

Friday, June 18, 2010

Waars ons nou? - 18 Junie 2010

Ek en seuna het die wonderlike voorreg om vir 'n klompie dae in ons piepklein Caravette 2 hier by MacNicol's Bay aan die suidkus te kamp. Laasweek besef ek met 'n 'bang' dat ek so hard gewerk het, ek het nooit eers aan vakansie-reelings gedink nie. En om 'n 6-jarige vir 5 weke tuis te vermaak, is so goed jy teken jou eie (en jou spruit!) se doodsvonnis. Ek het toe maar eerder bespreek...

Hoekom kamp ons? (Goeie rede hoekom enige enkel-ouer dit moet oorweeg):
* Dit kos relatief goedkoop in vergelyking met chalets en hotelle. Plekke soos MacNicol's laat jou per persoon betaal, so hier, in die vakansie, kos dit ons maar R220 per nag
* Die kinders maak ongelooflik gou maatjies. Dis goed vir hulle sosiale interaksie EN dit gee jou daardie broodnodige ruskans om te slaap of lees of watookal JY graag wil doen. Bygese, die kids moet darem so 4 plus wees om lekker saam met nder maatjies te speel. Myne het natuurlik 'n enkel-pa se seuna gaan uitkies as se nuwe beste maatjie. Ongelukkig geen match-making potensiaal hier nie, maar ten minste kon ek en die pappa darem 'n paar intelligente volwasse woorde wissel en hy kon seuna se visstok en aas uitsorteer - weer iets waarvan hierdie ma NIKS weet nie. En sy kiddie kom speel weer lekker hier en ek deel koeldrank en swieties uit.
* Veral as enkel-ma, is dit vir my belangrik dat Boeta ook die 'man'-dinge beleef en kan doen. Hy's mal daaroor om die vuur aan te steek en self vir ons braai-broodjies te braai. Hier kan kinders ook na hartelus fietsry en rond baljaar - iets wat nie altyd moontlik is vir die meeste van ons wat in meenthuis of woonstel-komplekse bly nie.
* Kinders leer bietjie verantwoordelikheid aan. Seuna moet elke oggend die vloer vee en die vullis uitgooi.
* Mens is oor die algemeen meer ontspanne. Toegegee, gewoonlik vat dit vir my 'n dag of wat om te kalmeer, maar daarna geniet almal dit meer :)
* Moenie bodder met fancy kos nie. Myne leef op gebraaide skaaptjoppies, braaibroodjies, spek, baked beans, hot dogs, 2 minute noodles en 'n groot hoeveelheid roomys (moet asb nie hierdie punt met dieetkundiges deel nie)
* Kampers het (oor die algemeen) gewoonlik dieselfde waardes en norme. Soos my tannie altyd se - dis ons dam se eende.

So hier sit ek nou en tik op my laptop binne-in die bed in ons klein karavaantjie. Ek het vir Buksie (dis sover die beste naam waarmee ek vorendag kon kom - wil dit dalk herdoop na 'Girl on the run' - maar weet nie watse reaksie ek dan op die pad gaan kry nie, lol) einde Maart aangeskaf in 'n oomblik van waansinnige jaloersgeid op my beste vriendin. Kyk, in my hele 33 jaar was ek nog nooit afgunstig op wat mense het, waar hulle bly of wat hulle ry nie. Maar toe Anita en Francois op Menseregtedag by my stop met hulle nuwe (1994) Sprite Sport, was die koeel deur die kerk. 7 Dae later het ek my (1991)Caravette gehad (na vele raad op die forum van 'Wegsleep'. Die mense daar het seker gemaak ek het genoeg inligting - en almal is regtig besorg oor jou. Ek is steeds 'n gereelde besoeker op die website: www.wegsleep.co.za). Dit was een van die trotsste dae van my lewe. Vinnig is lysies gemaak en goedjies aangeskaf (gelukkig kamp ons al 'n paar jaar met 'n tent, so die meeste goed het ek gehad). Vroeg April sit ek en seuna toe af Mbizi toe vir ons eerste 'karavaan'-kamp. Nogal senutergend, want het ek al genoem dat ek 'n baie beskeie karretjie het??? Renault Kangoo 1.4 (daai Postman Pat karretjies). Moet se, vele mans het my afgeraai om enigiets met my kar te sleep, maar, soos my geaardheid maar is, was dit nou net genoeg aansporing om almal verkeerd te bewys. My ouers, inkluis. My liefste Pa en Ma (van wie julle nog baaaaaie sal hoor) is deesdae te bang om te vra hoe gaan dit, want netnou is ek weer besig met die een of ander stapelgek idee. Dankie, Pa en Ma, dat julle my bly ondersteun en BAAAAAIE HARD BID.

O ja, terug na die Renault. Die het die trippie toe heel gerieflik gemaak, met 'n gemiddelde spoed van so 85km/uur. Moet se, my senuwees was maar redelik gedaan. Dis tye soos daai wat ek inniglik wens ek was nie op my eie nie, maar aan die sy van 'n dierbare man, wat al hierdie moeilike dinge sommer tjoef-tjaf kan hanteer.

Wel, kom toe veilig by Mbizi aan. Hulle het gelukkig werkers wat als vir jou opslaan (ek vind dit ook altyd voor die tyd uit - ek het nie die vaagste benul hoe om die karavaan se tentpale uit te figure nie, en weereens, ek het geen behoefte om te leer nie). Daardie paar ekstra randjies staan ek met 'n smile aan die bekwame werkers af.

Heerlik gekamp so tussen stortreen deur en natuurlik agtergekom presies waar lek als. Die 'priceless moment' van die kamp - toe Nico sy eerste vis in die dammetjie vang. Julle moes die uitdrukking op sy gesig gesien het. Van daar af het ek hom baie min gesien - hy het basies langs die dam gebly :)
Tog is hierdie vir my 'n 'Pappa'-oomblik: iets wat 'n pa en seun saam moes ervaar. Ek glo wel Nico se pa maak ook tyd vir sulke 'outings' as hy by hom gaan kuier.

Na ons Mbizitrippie is Buksie toe eers in vir 'n behoorlike diens en seel. Ek wag in spanning vir die eerste Suidkus-reens om te sien of die Woonwa-kliniek 'n goeie job gedoen het :)

Ek moet erken, die rit see toe as nogals erg. Hierdie berge en dale is nie jou speelmaat nie. Met die Vader se genade en my nuwe karretjie, 'n Daitshu Terios (die keer darem 'n 1500, jippiee!) het ons in een stuk hier aangekom.

Goeie raad:
* Ek het bele in 'n portable DVD player. Dit hou die gemoedere op die pad vir laaank kalm EN as dit baie ongure weer by jou kampplek is, is daar darem iets om die kids binneshuis mee besig te hou.

Omdat ons ietwat inderhaas bespreek en gepak het en ek nog tot op die nippertjie moes werk, kon ek nie als sorgvuldig nagaan voor ons vertrek het nie (dis in elkgeval weer 'n man-ding volgens my...). Dus, toe ons die karavaan aan die Terios wil haak, kom ek agter die 'connector' vir die ligte agter is te kort (op die Kangoo was dit nie 'n probleem nie - en watter vrou sal nou daaraan dink om DIT te check??) CHAOS - dank die Vader dat Trailarent op 16 Junie oop was. Die gawe manne het ons binne 15 minute reisvaardig gehad.

Nog iets wat ek nie gecheck het nie, is die gasstoof en bottel. Kan iemand vir my se of jy 'n Cadac stoof op ' n Alva Bottel kan connect? Blykbaar nie, want jy hoor net gas spuit as jy die bottel oopdraai. Ek het toe maar op my kleeeein gas braaiertjie uit my studente-stapdae gebraai: Spek - Nico se gunsteling. So more is dit ek en die gasgoed en Scottburugh se Hardeware winkel. Miskien moet ek 'n paar traantjies wegpink, dan help hulle my gou :) Weereeens, toe ek vroeer vanaand daar staan en sukkel en eintlik net die kos wil gaarkry, maar ek kan nie, want die dekselse goed wil nie werk nie, toe weet ek weer, dis nie veronderstel om my probleem te wees nie, maar dit is nou. En soms het ek net nie die kapasiteit om daarmee te 'deal' nie. En toe ek net daarna 'n blikkie tuna wil oopmaak en ek sukkel met die blikoopmaker ook nog, dan uiter jy soms in jou gedagtes, en soms minder sag, 'n suiwer Afrikaanse woordjie. Want ek kan ook net SOVEEL sukkel. Ean dan is ek te trots om oor die pad te stap en een van die 5 capable mans te vra om my te help - nee, Ronelle sal suffer in silence. En soms, net soms, verwens ek Nico se pa sommer, oor hy nie kon vasbyt nie, oor ek nou hier moet sukkel, omdat Nico saammet 'n ander seun se pappa moet visvang, omdat ek nie 'n dekselse gasbottel kan connect nie, ag sommer oor als...

Is daar ander enkel-ouers wat ook so voel??? En ek is versigtig om te se 'enkel-mammas', want ek weet daar is net so baie enkel-pa's en dan ook weer die 'naweek-ouer' of 'kuier-ouer' wat heelwaarskynlik met dieselfde en ook ander issues battle.

So, met 23:00 wat wink, die see se dreuning in die agtergrond en seuna wat reelmatig le en asemhaal in 'n diep slaap (ten spyte van 'n ou slegte verkoue), moet ek gou gaan tandeborsel en 'n laaste draaitjie loop. The joys of camping :)

Dis waar ons nou is...

Elke storie het 'n begin - 18 Junie 2010

Punt 1 - net om 'n 'Blog' te begin is 'huge' vir my - ek is redelik tegnologies gestremd, met geen intense behoefte om my vaardighede te verbeter nie. So, om hierdie eerste 'post' te 'create' het 'n rukkie geneem...

Punt 2 - hierdie 'Blog' is vir myself vir 'n paar redes:
* Om stoom af te blaas as dinge rof raak
* Om myself op die skouer te klop so nou en dan as ek wonder bo wonder iets regkry
* Om soms net bietjie afstand oor 'n sekere saak te kry - as mens dit neerpen en dan vanuit 'n ander hoek kyk, kry jy dalk 'n ander perspektief.
* Om die 'ware' storie te hou vir eendag. Vir eendag, as seuna dalk met vrae staan wat hy graag beantwoord wil he. (Ek het 'n uiters slegte geheue, toe dog ek maar ek begin nou neerskryf)
* Dalk, net dalk is daar ander ouers (mammas EN pappas) wat ook in hierdie alleen-ouer bootjie is en soms ook voel of hulle stadig besig is om te sink en die asem bietjie min raak. Dalk kan ons mekaar inspireer sodat ons genoeg krag kan he om NET VIR VANDAG aan te gaan en NET VIR VANDAG daardie verskil in ons kinders se lewe maak.
* Hierdie Blog is ook om my te help om 'n naby pad met my Hemelse Vader te stap en nooit te vergeet dat Hy nie net vandag by my is nie, maar ELKE DAG VAN MY LEWE.