Saturday, June 19, 2010

19 Junie 2010

Gedaan, gaar, moeg... dis ek vanaand.

Nico slaap reeds laaankal - die mannetjie is regtig olik. Vandag weer 'n paar honderd rand in Scottburgh se apteek spandeer. Ons is al vir amper twee maande in ons 'self-payment gap' by die Mediese fonds, so ek moet maar opdok. So ek het hom goed gedose. Hoop hy voel beter na 'n goeie nagrus.

Agv van sy olikheid, het ons toe nie gebraai nie. Nico het 'n hot dog gekry, terwyl ek maar die krummelpap met mielies in vir aandete gehad het. Nog steeds koningskos! Kon darem 'Disgrace' klaar lees - briljant, maar terrible.

Dieselfde DVD player wat ek gister so opgehemel het, het vanaand amper groot moeilikheid veroorsaak. Nico kyk en kyk sy DVD en staan nie op om badkamer toe te gaan nie. Toe ek hom uiteindelik kry om te beweeg, is dit toe natuurlik te laat en daar piepie meneer homself, sy badsakkie en die vloer van die toilet heeltemal nat. nie so groot probleem nie, sal jy se, maar hoe gemaak as mamma nou nie eintlik kan assisteer in die Mans-badkamers nie? Hom toe maar so gecoach-coach deur die venster terwyl sy trane loop en my hart breek oor my seuna wat te vroeg op sy eie voete moet staan. Die man het dit darem oorleef, maar ook net-net :)

En more is Vadersdag. Ek sal dat Nico sy pappa bel om hom 'n mmooi dag toe te wens, maar diep binne-in my sal dit seer wees. Seer, oor die Pa-rol wat ek nie WIL vervul nie, maar meestal nie 'n keuse het nie, seer vir my seun wat sy pappa definitief mis. Toe Nico jonger was (so 4-tot nog einde verlede jaar), het hy gereeld vertel: my pappa doen dit, my pappa doen dat, so hy kon ook lekker spog en grootpraat by sy maatjies. Hierdie jaar het ek begin agterkom hy doen dit nie meer nie. Hoekom nie? Die kontak met sy pa is so min en ongereeld, dat my kind nie meer genoegsame kennnis oor sy pa het nie! Tot einde verlede jaar het sy pa (met sy nuwe vrou en hulle baba-seuntjie) nog 'n Parys gebly, so afstand was 'n probleem. Nou bly hulle egter ongeveer 25km van my af, ook in Pretoria, en eintlik sien Nico sy pa nou MINDER as in die verlede. Sy pa bel hom ook baie ongereeld - soveel so dat Nico soms vir lank nie wil antwoord as sy pa besluit om wel te bel nie. Sy pa het hom nog NOOIT gereeld gebel nie. Maar laasjaar, nadat 'n sielkundige aanbeveel het dat sy pa hom ten minste 3 keer per week moet bel, het ek gehoop dit sal help. Moenie glo nie. (Die hele sielkundige-ding is ook 'n goeie onderwerp vir 'n gesprek op sy eie, meer daaroor op 'n ander dag)

So speel seuna Bulletje-rugby in Gr.1 vanjaar. Die dag toe die wedstrydrooster vir die seisoen uitgekom het, het ek onmiddellik sy pa ge-email EN per sms laat weet ek het 'n email gestuur (tot vandag het ek nog nie EEN reply op een van my mails gekry nie). Hy was dus deeglik bewus van die skedule. Soos baie ander in ons situasie, is die reeling ook dat pa vir seuna elke tweede naweek kry. sou daar dan sport / partytjies of wat ookal plaasvind, is dit dan daardie ouer se verantwoordelikheid.

Wil net byvoeg - Rugby is Nico se lewe. As hy in die oggend wakker word, is die bal onder die arm. So breek die tweede laaste wedstryd van die seisoen aan en Nico gaan die naweek na pappa toe. Ek vind die Donderdagaand uit dat pappa nie van plan is om vir Nico Saterdag rugby toe te vat nie!!!!!

No comments:

Post a Comment