Net vir vandag
Net vir vandag gaan ek die 'joyride' wat hierdie lewe my bied, omarm. Net vir vandag gaan ek die beste ma wees wat ek kan. En net vir vandag gaan die Liewe Vader se genade vir my genoeg wees.
Wednesday, March 20, 2013
Die handsak
Die HAT definieer 'n handsak as volg: " 'n [kleinerige] sak wat in die hand gedra kan word, meestal met persoonlike besittings (beursie, slutels, ens) in'.
Vir my sal hierdie definisie NIE werk nie. Dit moes ook seer sekerlik deur 'n man geformuleer geword het, en duidelik is geen vroulike insette verkry tydens die vasstelling van die definisie nie. 'n Handsak vertel 'n storie van lewe, 'n vrou se lewe. Die 'kleinerig' pla my ook - die meeste vroue (en ma's) wat ek ken, se handsakke kan deurgaan as reistasse. Terloops, een of ander slim klerekasbeplanner het eendag vir my gese dat jou handsak ongeveer dieselfde breedte moet wees as die breedste gedeelte van jou liggaam, nie veel breer of nouer nie, anders lyk jy uit proporsie uit. Dit skeel my egter deesdae baie min. Ek dra wat my pas en waarvan ek hou.
As jy my handsak sou bestudeer, sou jy 'n blik kry op Ronelle se lewe van die afgelope week. Want elke Sondag-aand is aksie handsak-regpak in my huis. Gewoonlik met Jukeboks of 'n opname van Binneland wat die laataand-stilte so bietjie meer draaglik maak, word ALLES uitgepak en omgedop om weereens van vooraf 'n bietjie orde te skep.
Eerstens word al die 'till slips' bymekaargehark en in drie hopies gesorteer - besigheidsuitgawes, aankope wat 'n waarborg het of wat ek dalk nog wil terugggee of omruil en 'ander'. Ander is bv vir Mediese fonds, of aankope vir die catering komitee wat ek nog moet terugeis by die skool, of 'n 'HET EK DIT GEKOOP??' strokie. Die gewone supermark-aankope vir kos of skoonmaakmiddels word in die asblik gegooi. Tog sal hierdie strokies jou baie kan vertel - dat iemand in ons huis vreeslik lief is vir Cheese Curls en nog iemand elke aand 'n tjoklitmelkie drink. Dit sal ook luidkeels uitskree dat 'iemand' nie kan kook nie, gemeet aan die hoeveelheid klaar gekookte maaltye wat gereeld gekoop word.
So twee maal 'n jaar sal 'n ander strokie jou vertel dat Plasures die parfuum vir my is, en nog een wys duidelik die ouderdom is besig om my in te haal - daar is 'Anti aging' gesigprodukte aangekoop, sowel as 'Sensitive' tandepasta.
Elke nou en dan sal daar 'n Sportmanswarehouse slippie opduik - dis wanneer seuna Mamma se arm gedraai het vir sporttoerusting of-klere. Uit nog 'n strokie sal jy kan sien dat die eienaar van die handsak versot is op tydskrifte - Van Weg sleep tot Your Family. 'n Ander een wys dat ons van fliek en popcorn eet hou. Pets inc se strokie sal bevestig dat hase wel teel soos...uhm... hase EN dat hulle vreeslik baie eet.
Van tyd tot tyd sal iemand vir jou kan se ek het bietjie klere gekoop of lekker ssaammet 'n vriendin gaan koffie drink, of myself gespoil met 'n mooi CD.
'n Verdwaalde inkopielys verduidelik hoekom die margarien nou al vir twee weke op is (en die huishulp se mond dik). Op nog 'n flentertjie papier is 'n koekbestelling neergeskribbel. (nota aan self: ONTHOU HIERVAN!!) Die astronomiese hoeveelheid kleingeld op die bodem van die handsak verklaar hoekom dit voel of die ding 'n ton weeg. Daar is tot een van daai 'handbag organisers' in, wat aangekoop is as teenvoeter vir die chaos. Daarin sal jy kry: besigheidskaartjies, my Xylitol suiker, 'n verskeidenhheid pleisters vir alle einas, n 'sample' pakkie hoesstroop en 'n paar pyntablette, klomp restaurant pepermente en 2 verkrummelde Wimpykoekies. Daar is 'n onlangse rekening waarop my huisadres wys - jy weet nooit wanneer moet iets weer gerica word nie. Gewoonlik is daar omtrent 4 penne, TOTDAT jy actually met een wil skryf. Daar is nog: 'n opvouborsel, tissues, handeroom, 'n klein pienk skroewedraaier met 6 verskillende punte, 'n klein haarknip, Antisan, tandestokkies en oogdruppels. Dan kom daar nog 'n hele 'vanity' sakkie met lipstiffie, ekstra vals naels, naelgom. mascara, onderlaag en 'n klein botteltjie parfuum by.
Iewers los in die handsak vind ek nog 'n pakkie wetwipes, 'n lee pakkie M & M's en kougom. Daar is'n A5 notaboek wat altyd moet saam om daardie 'a-ha' oomblikke neer te skryf. Dan kom die beursie, wat behalwe kontant (hang af watter tyd vab die maand dit is!), ook my ID, rybewys, Mediesefondskaart en alle ander winkel en bankkaarte huisves. En dan swerf die selfoon ook nog rond en kry jy hom NOOIT betyds as iemand bel nie.
Soms kom jy op die interessantse items af terwyl jy regpak - albasters, 'n sticky mouse, verdwaalde ringe of 'n hangertjie, 'n gedroogte blommetjie en selfs droewors - DIT kan net 'n ma se handsak wees!
Ek dink regtig 'n vrou se handsak vertel 'n storie van die lewe - soms is alles mooi netjies en georganiseerd en ander kere heers daar totale chaos. Gewoonlik gebruik ons ons 'gewone' daagliikse handsak wat goed ingedra is en dienlik is vir omtrent alles. Maar soms word die aandhandsakkie uitgehaal vir 'n funksie en daar word net 'n paar noodsaaklikhede ingpak.
En net soos ons elke dan en wan ons handsak moet omdop en skoonmaak, moet ons ook toelaat dat ons Hemelse Vader soms maar ons lewens kom omdop en skoonmaak. Hom toelaat om ons te bevry van die kleingeld van die lewe wat so swaar op ons druk, Hom toelaat om vir ons te wys watter hopie papiere (egskeiding, mislukkig, sonde, haat) ek maar kan weggooi, laat gaan, mee vrede maak. As God my 'handbag organiser' is, kan ek maar weet dat die Hemel se adres reeds in my hart gerica is. En al is my handsak soms swaar omdat ons die hele gesin se 'goeters' moet saamdra, kan ek vashou aan die wete dat ek God se persoonlike besitting is, ek le na aan sy hart. Hy SAL die chaos in my lewe kom uitsorteer op die regte tyd.
Dra dus jou handsak vandag met trots en selfvertroue en onthou dat jy die LEWE met jou saamdra.
Tuesday, March 19, 2013
Mans het wel 'n doel
Goeie raad aan vroue wat nog getroud is (veral die met jong kinders) - bly getroud, bly by jou man. Al voel jy soms of jy hom wil aanrand of uit die lewe uithaal, is hy sowaar 'n bate. Veral vir jou kinders. Veral op skool. Veral as hulle sport doen...
Ek as enkelmamma, wat baie goed van die buiterand van die sosiale sirkel observeer, sien daagliks hoe gedugte pa & ma-spanne 'n wesenlike voordeel vir hulle kind beteken. Voeg daarby 'n goeie skoot geld, en jou kind se kop is deur.
Jou man kan natuurlik ander broodnodige funksies ook verrig. Hy kan saam met die ander pa's staan en twak praat langs die sportveld. Hulle kan help afrig of telling hou of spanbestuurder wees. DIT tel punte. Hy kan ook, terwyl jy 'n heerlike Sondagmiddagslapie vat, vir boeta rugbyveld toe vat om up & unders te oefen, of vir ure lank krieketballe in die nette gooi.
Verder aan in die liga, kan hy jou seun opwarm en motiveer voor hy moet opgaan om te kolf, hy kan die opposisie se taktieke ontleed, en hy kan terloopse aanbevelings aan die afrigter maak terwyl hulle staan en gesels.
Ongelukkig is ek NIE meer getroud nie en is daar duisende ander enkelmammas(hetsy weduwee, geskei of ongetroud)wat saam met my in die bootjie is. Die bootjie van swem of sink. Die bootjie van self roei en vorentoe beur ter wille van jou kind. Die bootjie waarvan jy elke nou en dan wil afspring en 'Abandon ship!' wil skree.
Want enkelma's en hulle kinders kry swaar. En dan praat ek nie eers van finansies nie (dis 'n amper gegewe). Swaar omdat daar nie sommer iemand is wat jou battles help fight nie. Swaar omdat daar nie sommer iemand is wat vir jou voorspraak maak of 'n goeie woordjie doen nie. Swaar omdat jou kind maar moet speel en perform daar waar meneer hom sit en basta. Geen vergunnings of toegewings. Dis die lewe, en soms is dit HARD. Want HOE verduidelik ek as mamma aan my seuna dat ander maatjies altyd op die 'lekker' plekke / posisies speel, maar hy moet maar speel waar hy gesit word? Ander kinders kan hulle 50's slaan, maar jou seuna moet verklaar op 34?
As hulle klein is, is dit makliker om die onregverdigheid te verdoesel, om te draai of weg te stap. Maar soos hulle ouer word, besef hulle sommer gou dat almal nie gelyk is nie, en dat 'ability' maar net 'n klein gedeelte uitmaak van waar jy opeindig. En jou hart wil breek, want wat se jy, hoe verduidelik jy as ma dit aan jou kind? Jy leer jou kind om op te staan vir homself, maar jy wil nie 'n scene maak nie, al weet jy dinge is nie reg nie. Jy leer jou seun om volwassenes te respekteer, maar hoe respekteer my kind 'n ander oom wat so duidelik soos daglig sy eie kind bevoordeel??
En ja, hierdie gesprek is seker al so oud soos die berge, maar as dit MY kind is, is dit vars en nuut. Kinders van enkel-ouers leer relatief gou in hulle lewens dat die wereld daarbuite hard, ongenaakbaar en onregverdig is, en so sal dit altyd bly. As enkel-mamma het ek die ekstra-groot verantwoordelikheid om my kind te leer om hierdie uitdagings te 'face'. Ek moet hom leer om in homself te bly glo, om positief te wees en aan te hou om sy beste te doen.
Ek moet waak dat my kind (en ek!) 'n 'die wereld is teen my / die wereld skuld my' houding ontwikkel, want dan het ons reeds verloor. Ek moet hom leer om die wereld vierkant in die oe te kyk, om met 'n stille sekfvertoue te leef en nie mismoedig te word nie. Ek moet daaraan herinner dat al is sy aardse pappa nie elke dag by hom nie, sy Hemelse Pappa is ALTYD daar. Ek moet MYSELF daaraan herinner dat my Hemelse Vader ook elke dag daar is vir my. DIT gee gemoedsrus, die wete dat ek NIE alleen staan in hierdie grootse taak nie.
Ek moet my seuna leer om elke dag aan te hou om die regte ding te doen en dan moet ek as mamma dit ook LEEF. My kind moet verseker wees van my onvoorwaardelike liefde en dat in watter span jy speel, watter motor jou pa ry of waar jou huis is, geen effek op jou as mens moet he nie.
Here, my gebed vanaand is dat U tog asseblief met sagte oe na ons afvlerk-voeltjies sal kyk. Verseker ons kinders dat U nooit slaap nie en dat U regverdig is. Here, oms mammas is soms net so bitter moeg, moeg om als alleen te doen, moeg om sterk te staan, moeg om altyd die minste te wees, moeg om 'm mamma en 'n pappa se job te doen. Vou elke enkelmamma ook vanaand in U groot Vaderhande toe en gee ons die rus wat ons so broodnodig het. En rus ons toe om Koningsryks-kinders groot te maak, kinders wat skatte in die Hemel bymekaar maak.
Subscribe to:
Posts (Atom)