Net vir vandag gaan ek die 'joyride' wat hierdie lewe my bied, omarm. Net vir vandag gaan ek die beste ma wees wat ek kan. En net vir vandag gaan die Liewe Vader se genade vir my genoeg wees.
Tuesday, March 19, 2013
Mans het wel 'n doel
Goeie raad aan vroue wat nog getroud is (veral die met jong kinders) - bly getroud, bly by jou man. Al voel jy soms of jy hom wil aanrand of uit die lewe uithaal, is hy sowaar 'n bate. Veral vir jou kinders. Veral op skool. Veral as hulle sport doen...
Ek as enkelmamma, wat baie goed van die buiterand van die sosiale sirkel observeer, sien daagliks hoe gedugte pa & ma-spanne 'n wesenlike voordeel vir hulle kind beteken. Voeg daarby 'n goeie skoot geld, en jou kind se kop is deur.
Jou man kan natuurlik ander broodnodige funksies ook verrig. Hy kan saam met die ander pa's staan en twak praat langs die sportveld. Hulle kan help afrig of telling hou of spanbestuurder wees. DIT tel punte. Hy kan ook, terwyl jy 'n heerlike Sondagmiddagslapie vat, vir boeta rugbyveld toe vat om up & unders te oefen, of vir ure lank krieketballe in die nette gooi.
Verder aan in die liga, kan hy jou seun opwarm en motiveer voor hy moet opgaan om te kolf, hy kan die opposisie se taktieke ontleed, en hy kan terloopse aanbevelings aan die afrigter maak terwyl hulle staan en gesels.
Ongelukkig is ek NIE meer getroud nie en is daar duisende ander enkelmammas(hetsy weduwee, geskei of ongetroud)wat saam met my in die bootjie is. Die bootjie van swem of sink. Die bootjie van self roei en vorentoe beur ter wille van jou kind. Die bootjie waarvan jy elke nou en dan wil afspring en 'Abandon ship!' wil skree.
Want enkelma's en hulle kinders kry swaar. En dan praat ek nie eers van finansies nie (dis 'n amper gegewe). Swaar omdat daar nie sommer iemand is wat jou battles help fight nie. Swaar omdat daar nie sommer iemand is wat vir jou voorspraak maak of 'n goeie woordjie doen nie. Swaar omdat jou kind maar moet speel en perform daar waar meneer hom sit en basta. Geen vergunnings of toegewings. Dis die lewe, en soms is dit HARD. Want HOE verduidelik ek as mamma aan my seuna dat ander maatjies altyd op die 'lekker' plekke / posisies speel, maar hy moet maar speel waar hy gesit word? Ander kinders kan hulle 50's slaan, maar jou seuna moet verklaar op 34?
As hulle klein is, is dit makliker om die onregverdigheid te verdoesel, om te draai of weg te stap. Maar soos hulle ouer word, besef hulle sommer gou dat almal nie gelyk is nie, en dat 'ability' maar net 'n klein gedeelte uitmaak van waar jy opeindig. En jou hart wil breek, want wat se jy, hoe verduidelik jy as ma dit aan jou kind? Jy leer jou kind om op te staan vir homself, maar jy wil nie 'n scene maak nie, al weet jy dinge is nie reg nie. Jy leer jou seun om volwassenes te respekteer, maar hoe respekteer my kind 'n ander oom wat so duidelik soos daglig sy eie kind bevoordeel??
En ja, hierdie gesprek is seker al so oud soos die berge, maar as dit MY kind is, is dit vars en nuut. Kinders van enkel-ouers leer relatief gou in hulle lewens dat die wereld daarbuite hard, ongenaakbaar en onregverdig is, en so sal dit altyd bly. As enkel-mamma het ek die ekstra-groot verantwoordelikheid om my kind te leer om hierdie uitdagings te 'face'. Ek moet hom leer om in homself te bly glo, om positief te wees en aan te hou om sy beste te doen.
Ek moet waak dat my kind (en ek!) 'n 'die wereld is teen my / die wereld skuld my' houding ontwikkel, want dan het ons reeds verloor. Ek moet hom leer om die wereld vierkant in die oe te kyk, om met 'n stille sekfvertoue te leef en nie mismoedig te word nie. Ek moet daaraan herinner dat al is sy aardse pappa nie elke dag by hom nie, sy Hemelse Pappa is ALTYD daar. Ek moet MYSELF daaraan herinner dat my Hemelse Vader ook elke dag daar is vir my. DIT gee gemoedsrus, die wete dat ek NIE alleen staan in hierdie grootse taak nie.
Ek moet my seuna leer om elke dag aan te hou om die regte ding te doen en dan moet ek as mamma dit ook LEEF. My kind moet verseker wees van my onvoorwaardelike liefde en dat in watter span jy speel, watter motor jou pa ry of waar jou huis is, geen effek op jou as mens moet he nie.
Here, my gebed vanaand is dat U tog asseblief met sagte oe na ons afvlerk-voeltjies sal kyk. Verseker ons kinders dat U nooit slaap nie en dat U regverdig is. Here, oms mammas is soms net so bitter moeg, moeg om als alleen te doen, moeg om sterk te staan, moeg om altyd die minste te wees, moeg om 'm mamma en 'n pappa se job te doen. Vou elke enkelmamma ook vanaand in U groot Vaderhande toe en gee ons die rus wat ons so broodnodig het. En rus ons toe om Koningsryks-kinders groot te maak, kinders wat skatte in die Hemel bymekaar maak.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Dit is n baie mooi gebed. Jy doen n baie goeie job as ma en "pa"
ReplyDelete