Wednesday, March 20, 2013

Die handsak

Die HAT definieer 'n handsak as volg: " 'n [kleinerige] sak wat in die hand gedra kan word, meestal met persoonlike besittings (beursie, slutels, ens) in'. Vir my sal hierdie definisie NIE werk nie. Dit moes ook seer sekerlik deur 'n man geformuleer geword het, en duidelik is geen vroulike insette verkry tydens die vasstelling van die definisie nie. 'n Handsak vertel 'n storie van lewe, 'n vrou se lewe. Die 'kleinerig' pla my ook - die meeste vroue (en ma's) wat ek ken, se handsakke kan deurgaan as reistasse. Terloops, een of ander slim klerekasbeplanner het eendag vir my gese dat jou handsak ongeveer dieselfde breedte moet wees as die breedste gedeelte van jou liggaam, nie veel breer of nouer nie, anders lyk jy uit proporsie uit. Dit skeel my egter deesdae baie min. Ek dra wat my pas en waarvan ek hou. As jy my handsak sou bestudeer, sou jy 'n blik kry op Ronelle se lewe van die afgelope week. Want elke Sondag-aand is aksie handsak-regpak in my huis. Gewoonlik met Jukeboks of 'n opname van Binneland wat die laataand-stilte so bietjie meer draaglik maak, word ALLES uitgepak en omgedop om weereens van vooraf 'n bietjie orde te skep. Eerstens word al die 'till slips' bymekaargehark en in drie hopies gesorteer - besigheidsuitgawes, aankope wat 'n waarborg het of wat ek dalk nog wil terugggee of omruil en 'ander'. Ander is bv vir Mediese fonds, of aankope vir die catering komitee wat ek nog moet terugeis by die skool, of 'n 'HET EK DIT GEKOOP??' strokie. Die gewone supermark-aankope vir kos of skoonmaakmiddels word in die asblik gegooi. Tog sal hierdie strokies jou baie kan vertel - dat iemand in ons huis vreeslik lief is vir Cheese Curls en nog iemand elke aand 'n tjoklitmelkie drink. Dit sal ook luidkeels uitskree dat 'iemand' nie kan kook nie, gemeet aan die hoeveelheid klaar gekookte maaltye wat gereeld gekoop word. So twee maal 'n jaar sal 'n ander strokie jou vertel dat Plasures die parfuum vir my is, en nog een wys duidelik die ouderdom is besig om my in te haal - daar is 'Anti aging' gesigprodukte aangekoop, sowel as 'Sensitive' tandepasta. Elke nou en dan sal daar 'n Sportmanswarehouse slippie opduik - dis wanneer seuna Mamma se arm gedraai het vir sporttoerusting of-klere. Uit nog 'n strokie sal jy kan sien dat die eienaar van die handsak versot is op tydskrifte - Van Weg sleep tot Your Family. 'n Ander een wys dat ons van fliek en popcorn eet hou. Pets inc se strokie sal bevestig dat hase wel teel soos...uhm... hase EN dat hulle vreeslik baie eet. Van tyd tot tyd sal iemand vir jou kan se ek het bietjie klere gekoop of lekker ssaammet 'n vriendin gaan koffie drink, of myself gespoil met 'n mooi CD. 'n Verdwaalde inkopielys verduidelik hoekom die margarien nou al vir twee weke op is (en die huishulp se mond dik). Op nog 'n flentertjie papier is 'n koekbestelling neergeskribbel. (nota aan self: ONTHOU HIERVAN!!) Die astronomiese hoeveelheid kleingeld op die bodem van die handsak verklaar hoekom dit voel of die ding 'n ton weeg. Daar is tot een van daai 'handbag organisers' in, wat aangekoop is as teenvoeter vir die chaos. Daarin sal jy kry: besigheidskaartjies, my Xylitol suiker, 'n verskeidenhheid pleisters vir alle einas, n 'sample' pakkie hoesstroop en 'n paar pyntablette, klomp restaurant pepermente en 2 verkrummelde Wimpykoekies. Daar is 'n onlangse rekening waarop my huisadres wys - jy weet nooit wanneer moet iets weer gerica word nie. Gewoonlik is daar omtrent 4 penne, TOTDAT jy actually met een wil skryf. Daar is nog: 'n opvouborsel, tissues, handeroom, 'n klein pienk skroewedraaier met 6 verskillende punte, 'n klein haarknip, Antisan, tandestokkies en oogdruppels. Dan kom daar nog 'n hele 'vanity' sakkie met lipstiffie, ekstra vals naels, naelgom. mascara, onderlaag en 'n klein botteltjie parfuum by. Iewers los in die handsak vind ek nog 'n pakkie wetwipes, 'n lee pakkie M & M's en kougom. Daar is'n A5 notaboek wat altyd moet saam om daardie 'a-ha' oomblikke neer te skryf. Dan kom die beursie, wat behalwe kontant (hang af watter tyd vab die maand dit is!), ook my ID, rybewys, Mediesefondskaart en alle ander winkel en bankkaarte huisves. En dan swerf die selfoon ook nog rond en kry jy hom NOOIT betyds as iemand bel nie. Soms kom jy op die interessantse items af terwyl jy regpak - albasters, 'n sticky mouse, verdwaalde ringe of 'n hangertjie, 'n gedroogte blommetjie en selfs droewors - DIT kan net 'n ma se handsak wees! Ek dink regtig 'n vrou se handsak vertel 'n storie van die lewe - soms is alles mooi netjies en georganiseerd en ander kere heers daar totale chaos. Gewoonlik gebruik ons ons 'gewone' daagliikse handsak wat goed ingedra is en dienlik is vir omtrent alles. Maar soms word die aandhandsakkie uitgehaal vir 'n funksie en daar word net 'n paar noodsaaklikhede ingpak. En net soos ons elke dan en wan ons handsak moet omdop en skoonmaak, moet ons ook toelaat dat ons Hemelse Vader soms maar ons lewens kom omdop en skoonmaak. Hom toelaat om ons te bevry van die kleingeld van die lewe wat so swaar op ons druk, Hom toelaat om vir ons te wys watter hopie papiere (egskeiding, mislukkig, sonde, haat) ek maar kan weggooi, laat gaan, mee vrede maak. As God my 'handbag organiser' is, kan ek maar weet dat die Hemel se adres reeds in my hart gerica is. En al is my handsak soms swaar omdat ons die hele gesin se 'goeters' moet saamdra, kan ek vashou aan die wete dat ek God se persoonlike besitting is, ek le na aan sy hart. Hy SAL die chaos in my lewe kom uitsorteer op die regte tyd. Dra dus jou handsak vandag met trots en selfvertroue en onthou dat jy die LEWE met jou saamdra.

No comments:

Post a Comment