Monday, March 18, 2013

Drank & slegte mans

Vandag was een van daai dae wat ek (soos my ma sou se) my sommer aan drank en slegte mans wou oorgee. Nee genade, dis Maandag, dis net ek, hoe op aarde moet een mens als hanteer?! Ons begin die oggend met 'n ligte verslapie, maar ons is op en aan die gang (beenhare skeer staan oor tot more). Toe onthou ek die huishulp is nie hier nie, en skarrel inderhaas rond om vir Nico 'n kosblik te pak (ja,se dit nou maar - wat se tipe ma is ek dat ek nie ELKE dag self my kind se kos inpak nie ?!). Hy het onlangs besluit hy eet nie brood by die skool nie, en ook nie provitas of enigiets dergliks wat remotely gesond lyk nie. Ook nie joghurt of appels nie. Net EEN (ja natuurlk die duurste) soort kaas. Nie Oros nie, nie vrugtesap nie. En teen 7h00 op 'n Maandagoggend laat dit ons nie met 'n verskeidenheid opsies nie. Te laat dink ek daaraan dat ek dalk gisteraand moes Bran muffins bak, want DIT eet hy. Ons storm uit met biltong, 'n paaseier en 'n piesang en ek bid dat die welsyn nie vanoggend by die skool kom inspeksie doen nie. Ons storm TERUG die huis in, want die dekselse rugbybrief waar hulle jou hele pedigree aanvra, le vergete op die eetkamertafel. Ek vervies my sommer vir die vorm - hoekom staan 'Vader se besonderhede' altyd eerste en dan 'Moeder se besonderhede'?? Wat van Ouer 1 en Ouer 2??? ('n Paar jaar gelede was ek so kwaad vir my eks dat ek sommer gereeld op sy details geskryf het N/A. Ek het darem intussentyd afgekoel). Ons storm terug vir die derde maal - die keer om die NW-taak wat op die stoof staan, op te raap. Die gr.4's moes 'n natuurlike skuiling bou vir 'n dier van hul keuse (Nico het 'n skilpad gekies)en die 'materiaal' moes uit die natuur kom, of van goed by jou huis wat jou nie geld kos nie. GELUKKIG het boeta hierdie naweek by Pappa gaan kuier, so ek kon hierdie projek in pa se bekwame hande laat. En bekwaam is hy beslis - Nico het 'n meesterstuk teruggebring huistoe en ek kon sommmer sien hoe lekker hy en sy pa saam daaraan gewerk het en gebond het. As enkelma is dit nogals vir my 'n issue - my totale ON-Tegniesgeid sowel as my totale onwilligheid om iets daaraan te doen. Ek stel bloot net nie belang om te leer hoe om handiger te word nie. En dit kom gereeld terug om my te byt en dan moet ek astronomiese bedrae betaal om 'n handyman te kry om my te help. En hulle sien my mos van VEEEEER af kom en vra belaglike pryse, want hulle WEET ek is clueless. Maar net soos ek glo aan vroueregte en dat mans en vroue gelyk is, net so glo ek dat hierdie handyman projekkies 'n man se werk is. Ek stel nie belang hoe om 'n band om te ruil nie (ek weet REGTIG nie hoe nie), ek gebruik veel eerder 'n glue gun as 'n boor, en ek betaal elke keer die DSTV-man om my goed oor te installeer as daar swaar weer of wind was - ek weet net nie hoe werk dit nie. En dis soms hierdie 'klein' goedjies wat my wil onderkry - my oonddeur se 'cover' het seker al twee maande gelede afgeval en kort blykbaar omtrent net 3 skroefies, maar steeds ploeter ek voort. En ons eet al amper by kerslig soos die downlights in die kombuis een na die ander blaas, maar op 'n leer klim, sal ek nie. Terloops, ek dink daar behoort 'n wet te wees teen die verkoop van huise met downlights... Dis nou 7h10 en ek jaag skool toe om vir Nico af te laai en sy wiskundejuffrou te sien. Ek kom 7h20 by ontvangs aan vir my 7h10 vergaderinkie. Dis nadat ek Nico, sy tas, sy rugsak (met die 3 items pousekos) en sy natuurlike skuiling, als in een stuk uit die motor moes kry. Dis ook nadat ek die vreeslikste woorde uitdink vir my mede-ouers wat nie kan PARKEER nie!!! Mense, in 'n skool met amper 1800 kinders, moet jy asb DINK voor jy parkeer. As almal nie 5m spasies tussen jou en die volgende motor los nie, sal daar seker maklik 20 ekstra kan inpas, maar NEE!!! DIS. TE. VEEL. GEVRA. (om te dink) Ek leef net-net na die meeting met die heks van Endor. Omdat ek self 'n onnie was, kies ek toe die pad van vrede en rekonsiliasie en nie een van aanval nie. Dit het blykbaar gewerk. Sy belowe om 'n ogie oor my bloedjie te hou en hom nie vir middagete te eet nie. Ek durf die pad boekwinkel toe aan. Dis presies hierdie tyd van elke oggend dat ek vir die liewe Vader dankie se dat ek 5min van die werk af bly EN teen die verkeer mag ry. Die hoeveelheid nors gesigte wat ek elke oggend sien, maak my skoon bewerig. Eintlik 'begin' my dag nou eers amptelik, maar dit voel of ek reeds 'n marathon agter die rug het. Die oggend is sy gewone ligte chaos met telefone wat lui en navrae wat beantwoord moet word. Maar ewe skielik wip ek my in 'n krul toe ek hoor dat een van my bestuurders sommer SELF besluit het sy 'override' my en verander ons drywer se roete. Kyk, my my besigheidjie is daar geen hierargie nie, nee, ons werk tot die werk klaar is. Daar is geen base en klase nie, ons is almal kollegas en ek as eienaar verkies dit so. Maar vandag, net vandag, het ek gewens ek kon 'n bitch van 'n baas wees en dat mense spring en luister as ek praat. Tog moet ons in dieselfde asem net kwalifiseer dat hulle ook moet VERSTAAN wat ek praat. Telkemale voel dit vir my dat ek definitief 'n ander dialek as my werknemers moet praat. Hulle sien my mond gaan oop en toe, maar verstaan wat ek probeer se, oh no!!! Em as ek nog een keer hoor: "Ons GAAN / WOU dit nog doen" (wat van: ons HET dit al gedoen), of "Ek het gedink..." (wat van: Ja Baas), of "ek het dan vir XYZ gevra om te kyk..." (wat van: Jammer baas, ek moes SELF gaan kyk het), of "sorry" (wat van: Dit was my verantwoordelikheid en ek vra om verskoning. Ek sal bly tot ek my gemors reggemaak het). Toe durf ek Telkom vanmiddag oor 10217 aan oor 'n lyn wat reeds in Desember geinstalleer moes word. 45 minute en 3 operateurs later, met die inligting dat 'iemand' die lyn gekanselleer het en ek die hele proses van VOOR af moet deurmaak, maak ek 'n nota aan myself - ry volgende keer eerder Mall toe en praat met iemand in persoon. Dit MOET minder traumaties wees. Ek kan nog ten minste 15 goed opnoem wat al my energie getap het agv van ANDER mense wat bloot net nie hulle ore kan oopmaak nie. Maar ek voel my polsslag gevaarlik lig soos ek hier sit eh tik, dus laat ek maar eerder net afkalm, want hier is geen drank in my huis nie, en slegte mans nog minder. Lekker slaap, almal!

No comments:

Post a Comment