Sunday, March 17, 2013

Koekbak

Hier is 'n foto van 'n koek wat ek vandag vir 'n bestelling gemaak het. Terwyl ek so staan en versier, loop my gedagtes wye draaie terug na my eerste koekbakpoging as nuwe mamma. Nico se eerste verjaarsdag was natuurlik 'n hoogtepunt op my kalender. Let wel, MY... want watter kleintjie onthou enigiets van sy eerste, tweede en sekerlik derde verjaarsdag??! Ek het al van mense gehoor wat hulle dogtertjie Pick 'n Pay toe geneem het naby haar eerste verjaarsdag en sommer daar by een van die mooi, klaargemaakte koeke 'n foto laat neem het. Siedaar, koekprobleem opgelos. Ek het destyds gedink die mense is stapelgek om dit te doen, maar namate ek agtergekom het wat 'n koek KOS, het ek die 'method behind their madness' besef. Want selfs 9 jaar gelede het 'n koek 'n klein fortuintjie gekos. Ek besluit toe om my eie koek te maak, 'n Dinosaurus nogal. Nodeloos om te se - die koek het geflop en ek moes inderhaas supermark toe jaag om klaargemaakte sponskoeke te koop. Die het ek toe uitgesny en my dinosaur 'gepak' en versier. Ons het sommer ons plastiektafel se pote uitgetrek en alles plat op die stoep neergesit sodat die kruipende of pas-begin lopende kleintjies hulleself kon help. Die koek is natuurlik in die pross verwoes, maar ten minste het almal 'n 'blast' gehad. Dis na hierdie episode dat ek besef het dat daar mense moet wees wat: A. net soos ek, NIE die geld het om tussen R400 en R1000 vir 'n kind se verjaarsdagkoek te betaal nie, of B. dalk die geld het, maar uit beginsel nie soveel geld op 'n koek wil spandeer nie. En so het ek stadigaan myself maar begin leer, uit boeke gelees en hier en daar tips gevang. Ten minste het dit gelyk of ek darem kon bak, want my kosmaakvaardighede is regtig gevaarlik min. Ek het 'n cupcake-kursus bygewoon en geoefen en geoefen en BAIE gratis koeke vir my vriende en familie gemaak en versier. My suster sal my seker tot die dag dat sy dooi, verkwalik vir die amper lewensgrootte Seerower-koek wat ek vir Nico vir sy 4de verjaarsdag gebak het, en sy moes help versier. Teen 24h00 daardie nag was sy GLAD nie meer ingenome met my nie! Ja, ek kan dit maar erken, ek gaan maar altyd so bietjie op hol met 'n ding (seker ook maar omdat ek net een kind het). Ek leef ook nogals so: Gaan groot of gaan huistoe :) En nou bak ek al amper 5 jaar lank partytjiekoeke. Ek 'spesialiseer' maar meestal in koeke soos die Barney-koek hierbo. Die troukoeke of 3D-koeke los ek vir ander mense. Tans vra ek R220 vir so koek. Ek kry amper weekliks mense wat my terugbel om te se hoe lekker die koek was. Die 'priceless' oomblikke is egter wanneer jy die verjaardagmaatjie se gesig sien as hulle die koek kom haal. Die opgewondenheid en die ogies wat skitterblink, maak die swoeg en sweet oor en oor die moeite werd. Die inkomste uit die koekbakkery help ook om broodnodige gate toe te stop, of onverwagte sport- of skooluitgawes te betaal - iets wat maar altyd daar is as jy 'n enkel-ouer is. Wat begin het as 'n lekker stokperdjie, het 'n uitkoms geword toe daar ewe skielik net een salaris was om op te leef. As jy dalk in dieselfde bootjie is, wil ek jou uitdaag: 'challenge' jouself, kyk om jou rond, identifiseer behoeftes van ander mense, besluit watter tipe dinge jy goed kan doen, en beraam 'n plan oor hoe om in ander se behoeftes te voorsien. Wees miskien bereid om 'n paar keer eers 'n diens verniet aan te bied, sodat voornemende kliente die kwalitiet van jou werk / diens kan sien. Want mense PRAAT, en as jy 'n goeie produk of diens het, SAL hulle jou verwys. Die MEESTE van my kliente wat koeke bestel, is deur 'n familielid of vriendin verwys, ek adverteer eintlik bitter min. Een ding wat ek ook al vroeg in my lewe geleer het, is dat geen werk benede my is nie (orraait, daar is EEN 'professie' wat ek beslis nie sal oorweeg nie, en dis nou om 'n dame van die nag' te wees - eerstens omdat dit heeltmal teen my beginsels is, en tweedens omdat ek regtig bang is dat ek sal moet inbetaal!!) Maar grappies op 'n stokkie - ek as mamma sal enigiets doen om seker te maak dat my kind versorg is. So drie jaar gelede het ek, behalwe vir my werk as eienaar van Galileo Books, deeltyds klasgegee by 'n Kollege EN koek gebak. Ek kan nog goed onthou hoe ek Vrydagoggende 7h15 voor die kleuterskool se hek rondgetrippel het om Nico af te laai, dan deurgejaag Pretoria-Oos toe om klas te gee. Daar klaar, het ek teruggejaag om met die naweek se koekbestellings te begin. En iewers in die loop van die middag, moes ek nog weer vir Nico gaan oplaai EN met hom speel. Dikwels teen 'n Vrydagaand was ek, hy en die meenthuis se kombuis in 'n wit lagie bedek soos ek met die versiersuiker tekere gegaan het. Soos my ma gereeld se: Arm, maar independent! Ek het die laate paar jaar ook vir Johanna, my huishulp, geleer hoe om te bak en te versier, en soms as ek haar so kyk, dan dink ek sy doen dit eintlik beter as ek! My droom vir haar is om haar binne die volgende paar jaar so op te stel dat sy kan teruggaan na haar huis toe, sodat sy daar haar eie koekbak-besigheidjie kan he terwyl sy by haar kinders is. Alhoewel ek omtrent elke dag hiper-besig is, is die koekbak en versier my 'afskakel-tyd'. Dan vergeet ek van die probleme by die werk, of hoeveel werk ek nog moet doen. Ek raak kreatief, en ontspan totaal en al, al is ek besig. En nou en dan val Nico by my in, dan maak ons Brownies (hy kan dit feitlik al heeltemal op sy eie doen!) of Rice krispie koekies of Grondboontjiebotter-koekies. So spandeer ons ook waardevolle familietyd saam. Sowat 'n week gelede het ek 'n bestelling wat die Donderdagmiddag moet klaar. Soos die noodlot dit wil he, verslaap ek toe so bietjie en kry nie kans om die eetbare prentjie vir die koek te print voor ek vir Nico by die skool moet gaan aflaai nie. Ek besluit om maar eers te gaan werk voor ek terugkom huistoe om te print. Toe ek teen 10h00 besef dat ek nou MOET ry, was ek erg omgekrap, want daar was soveel goed in die kantoor wat moes klaar. Maar soos ek huistoe ry, tref dit my HOE ondankbaar ek eintlik is: * Ek besit 'n MOTOR om in huistoe te kan ry * Ek het 'n HUIS waarna toe ek kan gaan * Ek het ELEKTRISITEIT om die printer te kan aansit * Ek het 'n REKENAAR en 'n PRINTER * Ek het die KENNIS en vermoe om op 'n rekenaar te kan werk * Ek het die TALENT om 'n koek te kan bak en versier * Ek het 'n WERK waarna ek kan teruggaan En ek ry so en ek kry BAIE skaam oor my onvergenoegdheid. Heel dikwels kyk ons so vas teen die probleem dat ons nie die seeninge daarin kan raaksien nie. Ek is eerlik as ek se dat ek regtig ook soms net wil sit en NIKS doen nie en nie van punt A na punt B jaag nie. Ek weet nie wanneer laas ek bv NET gesit en TV kyk het nie, nee, ek is gewoonlik met ten minste twee ander goed tegelyketyd besig. Maar ek weet ook dat in my besig en aan-die-gang wees, is my Hemelse Vader daar en hy DRA my. Hy het my nog nooit gelos nie, en sal ook nie. En ek glo kinderlik dat ek eendag die Hemelse rus saammet hom sal ervaar, en DIT sal 'n rus wees wat elke ander aardse rus oortref. En daaraan hou ek vas - elke dag.

No comments:

Post a Comment