Wednesday, March 20, 2013

Die handsak

Die HAT definieer 'n handsak as volg: " 'n [kleinerige] sak wat in die hand gedra kan word, meestal met persoonlike besittings (beursie, slutels, ens) in'. Vir my sal hierdie definisie NIE werk nie. Dit moes ook seer sekerlik deur 'n man geformuleer geword het, en duidelik is geen vroulike insette verkry tydens die vasstelling van die definisie nie. 'n Handsak vertel 'n storie van lewe, 'n vrou se lewe. Die 'kleinerig' pla my ook - die meeste vroue (en ma's) wat ek ken, se handsakke kan deurgaan as reistasse. Terloops, een of ander slim klerekasbeplanner het eendag vir my gese dat jou handsak ongeveer dieselfde breedte moet wees as die breedste gedeelte van jou liggaam, nie veel breer of nouer nie, anders lyk jy uit proporsie uit. Dit skeel my egter deesdae baie min. Ek dra wat my pas en waarvan ek hou. As jy my handsak sou bestudeer, sou jy 'n blik kry op Ronelle se lewe van die afgelope week. Want elke Sondag-aand is aksie handsak-regpak in my huis. Gewoonlik met Jukeboks of 'n opname van Binneland wat die laataand-stilte so bietjie meer draaglik maak, word ALLES uitgepak en omgedop om weereens van vooraf 'n bietjie orde te skep. Eerstens word al die 'till slips' bymekaargehark en in drie hopies gesorteer - besigheidsuitgawes, aankope wat 'n waarborg het of wat ek dalk nog wil terugggee of omruil en 'ander'. Ander is bv vir Mediese fonds, of aankope vir die catering komitee wat ek nog moet terugeis by die skool, of 'n 'HET EK DIT GEKOOP??' strokie. Die gewone supermark-aankope vir kos of skoonmaakmiddels word in die asblik gegooi. Tog sal hierdie strokies jou baie kan vertel - dat iemand in ons huis vreeslik lief is vir Cheese Curls en nog iemand elke aand 'n tjoklitmelkie drink. Dit sal ook luidkeels uitskree dat 'iemand' nie kan kook nie, gemeet aan die hoeveelheid klaar gekookte maaltye wat gereeld gekoop word. So twee maal 'n jaar sal 'n ander strokie jou vertel dat Plasures die parfuum vir my is, en nog een wys duidelik die ouderdom is besig om my in te haal - daar is 'Anti aging' gesigprodukte aangekoop, sowel as 'Sensitive' tandepasta. Elke nou en dan sal daar 'n Sportmanswarehouse slippie opduik - dis wanneer seuna Mamma se arm gedraai het vir sporttoerusting of-klere. Uit nog 'n strokie sal jy kan sien dat die eienaar van die handsak versot is op tydskrifte - Van Weg sleep tot Your Family. 'n Ander een wys dat ons van fliek en popcorn eet hou. Pets inc se strokie sal bevestig dat hase wel teel soos...uhm... hase EN dat hulle vreeslik baie eet. Van tyd tot tyd sal iemand vir jou kan se ek het bietjie klere gekoop of lekker ssaammet 'n vriendin gaan koffie drink, of myself gespoil met 'n mooi CD. 'n Verdwaalde inkopielys verduidelik hoekom die margarien nou al vir twee weke op is (en die huishulp se mond dik). Op nog 'n flentertjie papier is 'n koekbestelling neergeskribbel. (nota aan self: ONTHOU HIERVAN!!) Die astronomiese hoeveelheid kleingeld op die bodem van die handsak verklaar hoekom dit voel of die ding 'n ton weeg. Daar is tot een van daai 'handbag organisers' in, wat aangekoop is as teenvoeter vir die chaos. Daarin sal jy kry: besigheidskaartjies, my Xylitol suiker, 'n verskeidenhheid pleisters vir alle einas, n 'sample' pakkie hoesstroop en 'n paar pyntablette, klomp restaurant pepermente en 2 verkrummelde Wimpykoekies. Daar is 'n onlangse rekening waarop my huisadres wys - jy weet nooit wanneer moet iets weer gerica word nie. Gewoonlik is daar omtrent 4 penne, TOTDAT jy actually met een wil skryf. Daar is nog: 'n opvouborsel, tissues, handeroom, 'n klein pienk skroewedraaier met 6 verskillende punte, 'n klein haarknip, Antisan, tandestokkies en oogdruppels. Dan kom daar nog 'n hele 'vanity' sakkie met lipstiffie, ekstra vals naels, naelgom. mascara, onderlaag en 'n klein botteltjie parfuum by. Iewers los in die handsak vind ek nog 'n pakkie wetwipes, 'n lee pakkie M & M's en kougom. Daar is'n A5 notaboek wat altyd moet saam om daardie 'a-ha' oomblikke neer te skryf. Dan kom die beursie, wat behalwe kontant (hang af watter tyd vab die maand dit is!), ook my ID, rybewys, Mediesefondskaart en alle ander winkel en bankkaarte huisves. En dan swerf die selfoon ook nog rond en kry jy hom NOOIT betyds as iemand bel nie. Soms kom jy op die interessantse items af terwyl jy regpak - albasters, 'n sticky mouse, verdwaalde ringe of 'n hangertjie, 'n gedroogte blommetjie en selfs droewors - DIT kan net 'n ma se handsak wees! Ek dink regtig 'n vrou se handsak vertel 'n storie van die lewe - soms is alles mooi netjies en georganiseerd en ander kere heers daar totale chaos. Gewoonlik gebruik ons ons 'gewone' daagliikse handsak wat goed ingedra is en dienlik is vir omtrent alles. Maar soms word die aandhandsakkie uitgehaal vir 'n funksie en daar word net 'n paar noodsaaklikhede ingpak. En net soos ons elke dan en wan ons handsak moet omdop en skoonmaak, moet ons ook toelaat dat ons Hemelse Vader soms maar ons lewens kom omdop en skoonmaak. Hom toelaat om ons te bevry van die kleingeld van die lewe wat so swaar op ons druk, Hom toelaat om vir ons te wys watter hopie papiere (egskeiding, mislukkig, sonde, haat) ek maar kan weggooi, laat gaan, mee vrede maak. As God my 'handbag organiser' is, kan ek maar weet dat die Hemel se adres reeds in my hart gerica is. En al is my handsak soms swaar omdat ons die hele gesin se 'goeters' moet saamdra, kan ek vashou aan die wete dat ek God se persoonlike besitting is, ek le na aan sy hart. Hy SAL die chaos in my lewe kom uitsorteer op die regte tyd. Dra dus jou handsak vandag met trots en selfvertroue en onthou dat jy die LEWE met jou saamdra.

Tuesday, March 19, 2013

Mans het wel 'n doel

Goeie raad aan vroue wat nog getroud is (veral die met jong kinders) - bly getroud, bly by jou man. Al voel jy soms of jy hom wil aanrand of uit die lewe uithaal, is hy sowaar 'n bate. Veral vir jou kinders. Veral op skool. Veral as hulle sport doen... Ek as enkelmamma, wat baie goed van die buiterand van die sosiale sirkel observeer, sien daagliks hoe gedugte pa & ma-spanne 'n wesenlike voordeel vir hulle kind beteken. Voeg daarby 'n goeie skoot geld, en jou kind se kop is deur. Jou man kan natuurlik ander broodnodige funksies ook verrig. Hy kan saam met die ander pa's staan en twak praat langs die sportveld. Hulle kan help afrig of telling hou of spanbestuurder wees. DIT tel punte. Hy kan ook, terwyl jy 'n heerlike Sondagmiddagslapie vat, vir boeta rugbyveld toe vat om up & unders te oefen, of vir ure lank krieketballe in die nette gooi. Verder aan in die liga, kan hy jou seun opwarm en motiveer voor hy moet opgaan om te kolf, hy kan die opposisie se taktieke ontleed, en hy kan terloopse aanbevelings aan die afrigter maak terwyl hulle staan en gesels. Ongelukkig is ek NIE meer getroud nie en is daar duisende ander enkelmammas(hetsy weduwee, geskei of ongetroud)wat saam met my in die bootjie is. Die bootjie van swem of sink. Die bootjie van self roei en vorentoe beur ter wille van jou kind. Die bootjie waarvan jy elke nou en dan wil afspring en 'Abandon ship!' wil skree. Want enkelma's en hulle kinders kry swaar. En dan praat ek nie eers van finansies nie (dis 'n amper gegewe). Swaar omdat daar nie sommer iemand is wat jou battles help fight nie. Swaar omdat daar nie sommer iemand is wat vir jou voorspraak maak of 'n goeie woordjie doen nie. Swaar omdat jou kind maar moet speel en perform daar waar meneer hom sit en basta. Geen vergunnings of toegewings. Dis die lewe, en soms is dit HARD. Want HOE verduidelik ek as mamma aan my seuna dat ander maatjies altyd op die 'lekker' plekke / posisies speel, maar hy moet maar speel waar hy gesit word? Ander kinders kan hulle 50's slaan, maar jou seuna moet verklaar op 34? As hulle klein is, is dit makliker om die onregverdigheid te verdoesel, om te draai of weg te stap. Maar soos hulle ouer word, besef hulle sommer gou dat almal nie gelyk is nie, en dat 'ability' maar net 'n klein gedeelte uitmaak van waar jy opeindig. En jou hart wil breek, want wat se jy, hoe verduidelik jy as ma dit aan jou kind? Jy leer jou kind om op te staan vir homself, maar jy wil nie 'n scene maak nie, al weet jy dinge is nie reg nie. Jy leer jou seun om volwassenes te respekteer, maar hoe respekteer my kind 'n ander oom wat so duidelik soos daglig sy eie kind bevoordeel?? En ja, hierdie gesprek is seker al so oud soos die berge, maar as dit MY kind is, is dit vars en nuut. Kinders van enkel-ouers leer relatief gou in hulle lewens dat die wereld daarbuite hard, ongenaakbaar en onregverdig is, en so sal dit altyd bly. As enkel-mamma het ek die ekstra-groot verantwoordelikheid om my kind te leer om hierdie uitdagings te 'face'. Ek moet hom leer om in homself te bly glo, om positief te wees en aan te hou om sy beste te doen. Ek moet waak dat my kind (en ek!) 'n 'die wereld is teen my / die wereld skuld my' houding ontwikkel, want dan het ons reeds verloor. Ek moet hom leer om die wereld vierkant in die oe te kyk, om met 'n stille sekfvertoue te leef en nie mismoedig te word nie. Ek moet daaraan herinner dat al is sy aardse pappa nie elke dag by hom nie, sy Hemelse Pappa is ALTYD daar. Ek moet MYSELF daaraan herinner dat my Hemelse Vader ook elke dag daar is vir my. DIT gee gemoedsrus, die wete dat ek NIE alleen staan in hierdie grootse taak nie. Ek moet my seuna leer om elke dag aan te hou om die regte ding te doen en dan moet ek as mamma dit ook LEEF. My kind moet verseker wees van my onvoorwaardelike liefde en dat in watter span jy speel, watter motor jou pa ry of waar jou huis is, geen effek op jou as mens moet he nie. Here, my gebed vanaand is dat U tog asseblief met sagte oe na ons afvlerk-voeltjies sal kyk. Verseker ons kinders dat U nooit slaap nie en dat U regverdig is. Here, oms mammas is soms net so bitter moeg, moeg om als alleen te doen, moeg om sterk te staan, moeg om altyd die minste te wees, moeg om 'm mamma en 'n pappa se job te doen. Vou elke enkelmamma ook vanaand in U groot Vaderhande toe en gee ons die rus wat ons so broodnodig het. En rus ons toe om Koningsryks-kinders groot te maak, kinders wat skatte in die Hemel bymekaar maak.

Monday, March 18, 2013

Drank & slegte mans

Vandag was een van daai dae wat ek (soos my ma sou se) my sommer aan drank en slegte mans wou oorgee. Nee genade, dis Maandag, dis net ek, hoe op aarde moet een mens als hanteer?! Ons begin die oggend met 'n ligte verslapie, maar ons is op en aan die gang (beenhare skeer staan oor tot more). Toe onthou ek die huishulp is nie hier nie, en skarrel inderhaas rond om vir Nico 'n kosblik te pak (ja,se dit nou maar - wat se tipe ma is ek dat ek nie ELKE dag self my kind se kos inpak nie ?!). Hy het onlangs besluit hy eet nie brood by die skool nie, en ook nie provitas of enigiets dergliks wat remotely gesond lyk nie. Ook nie joghurt of appels nie. Net EEN (ja natuurlk die duurste) soort kaas. Nie Oros nie, nie vrugtesap nie. En teen 7h00 op 'n Maandagoggend laat dit ons nie met 'n verskeidenheid opsies nie. Te laat dink ek daaraan dat ek dalk gisteraand moes Bran muffins bak, want DIT eet hy. Ons storm uit met biltong, 'n paaseier en 'n piesang en ek bid dat die welsyn nie vanoggend by die skool kom inspeksie doen nie. Ons storm TERUG die huis in, want die dekselse rugbybrief waar hulle jou hele pedigree aanvra, le vergete op die eetkamertafel. Ek vervies my sommer vir die vorm - hoekom staan 'Vader se besonderhede' altyd eerste en dan 'Moeder se besonderhede'?? Wat van Ouer 1 en Ouer 2??? ('n Paar jaar gelede was ek so kwaad vir my eks dat ek sommer gereeld op sy details geskryf het N/A. Ek het darem intussentyd afgekoel). Ons storm terug vir die derde maal - die keer om die NW-taak wat op die stoof staan, op te raap. Die gr.4's moes 'n natuurlike skuiling bou vir 'n dier van hul keuse (Nico het 'n skilpad gekies)en die 'materiaal' moes uit die natuur kom, of van goed by jou huis wat jou nie geld kos nie. GELUKKIG het boeta hierdie naweek by Pappa gaan kuier, so ek kon hierdie projek in pa se bekwame hande laat. En bekwaam is hy beslis - Nico het 'n meesterstuk teruggebring huistoe en ek kon sommmer sien hoe lekker hy en sy pa saam daaraan gewerk het en gebond het. As enkelma is dit nogals vir my 'n issue - my totale ON-Tegniesgeid sowel as my totale onwilligheid om iets daaraan te doen. Ek stel bloot net nie belang om te leer hoe om handiger te word nie. En dit kom gereeld terug om my te byt en dan moet ek astronomiese bedrae betaal om 'n handyman te kry om my te help. En hulle sien my mos van VEEEEER af kom en vra belaglike pryse, want hulle WEET ek is clueless. Maar net soos ek glo aan vroueregte en dat mans en vroue gelyk is, net so glo ek dat hierdie handyman projekkies 'n man se werk is. Ek stel nie belang hoe om 'n band om te ruil nie (ek weet REGTIG nie hoe nie), ek gebruik veel eerder 'n glue gun as 'n boor, en ek betaal elke keer die DSTV-man om my goed oor te installeer as daar swaar weer of wind was - ek weet net nie hoe werk dit nie. En dis soms hierdie 'klein' goedjies wat my wil onderkry - my oonddeur se 'cover' het seker al twee maande gelede afgeval en kort blykbaar omtrent net 3 skroefies, maar steeds ploeter ek voort. En ons eet al amper by kerslig soos die downlights in die kombuis een na die ander blaas, maar op 'n leer klim, sal ek nie. Terloops, ek dink daar behoort 'n wet te wees teen die verkoop van huise met downlights... Dis nou 7h10 en ek jaag skool toe om vir Nico af te laai en sy wiskundejuffrou te sien. Ek kom 7h20 by ontvangs aan vir my 7h10 vergaderinkie. Dis nadat ek Nico, sy tas, sy rugsak (met die 3 items pousekos) en sy natuurlike skuiling, als in een stuk uit die motor moes kry. Dis ook nadat ek die vreeslikste woorde uitdink vir my mede-ouers wat nie kan PARKEER nie!!! Mense, in 'n skool met amper 1800 kinders, moet jy asb DINK voor jy parkeer. As almal nie 5m spasies tussen jou en die volgende motor los nie, sal daar seker maklik 20 ekstra kan inpas, maar NEE!!! DIS. TE. VEEL. GEVRA. (om te dink) Ek leef net-net na die meeting met die heks van Endor. Omdat ek self 'n onnie was, kies ek toe die pad van vrede en rekonsiliasie en nie een van aanval nie. Dit het blykbaar gewerk. Sy belowe om 'n ogie oor my bloedjie te hou en hom nie vir middagete te eet nie. Ek durf die pad boekwinkel toe aan. Dis presies hierdie tyd van elke oggend dat ek vir die liewe Vader dankie se dat ek 5min van die werk af bly EN teen die verkeer mag ry. Die hoeveelheid nors gesigte wat ek elke oggend sien, maak my skoon bewerig. Eintlik 'begin' my dag nou eers amptelik, maar dit voel of ek reeds 'n marathon agter die rug het. Die oggend is sy gewone ligte chaos met telefone wat lui en navrae wat beantwoord moet word. Maar ewe skielik wip ek my in 'n krul toe ek hoor dat een van my bestuurders sommer SELF besluit het sy 'override' my en verander ons drywer se roete. Kyk, my my besigheidjie is daar geen hierargie nie, nee, ons werk tot die werk klaar is. Daar is geen base en klase nie, ons is almal kollegas en ek as eienaar verkies dit so. Maar vandag, net vandag, het ek gewens ek kon 'n bitch van 'n baas wees en dat mense spring en luister as ek praat. Tog moet ons in dieselfde asem net kwalifiseer dat hulle ook moet VERSTAAN wat ek praat. Telkemale voel dit vir my dat ek definitief 'n ander dialek as my werknemers moet praat. Hulle sien my mond gaan oop en toe, maar verstaan wat ek probeer se, oh no!!! Em as ek nog een keer hoor: "Ons GAAN / WOU dit nog doen" (wat van: ons HET dit al gedoen), of "Ek het gedink..." (wat van: Ja Baas), of "ek het dan vir XYZ gevra om te kyk..." (wat van: Jammer baas, ek moes SELF gaan kyk het), of "sorry" (wat van: Dit was my verantwoordelikheid en ek vra om verskoning. Ek sal bly tot ek my gemors reggemaak het). Toe durf ek Telkom vanmiddag oor 10217 aan oor 'n lyn wat reeds in Desember geinstalleer moes word. 45 minute en 3 operateurs later, met die inligting dat 'iemand' die lyn gekanselleer het en ek die hele proses van VOOR af moet deurmaak, maak ek 'n nota aan myself - ry volgende keer eerder Mall toe en praat met iemand in persoon. Dit MOET minder traumaties wees. Ek kan nog ten minste 15 goed opnoem wat al my energie getap het agv van ANDER mense wat bloot net nie hulle ore kan oopmaak nie. Maar ek voel my polsslag gevaarlik lig soos ek hier sit eh tik, dus laat ek maar eerder net afkalm, want hier is geen drank in my huis nie, en slegte mans nog minder. Lekker slaap, almal!

Sunday, March 17, 2013

Koekbak

Hier is 'n foto van 'n koek wat ek vandag vir 'n bestelling gemaak het. Terwyl ek so staan en versier, loop my gedagtes wye draaie terug na my eerste koekbakpoging as nuwe mamma. Nico se eerste verjaarsdag was natuurlik 'n hoogtepunt op my kalender. Let wel, MY... want watter kleintjie onthou enigiets van sy eerste, tweede en sekerlik derde verjaarsdag??! Ek het al van mense gehoor wat hulle dogtertjie Pick 'n Pay toe geneem het naby haar eerste verjaarsdag en sommer daar by een van die mooi, klaargemaakte koeke 'n foto laat neem het. Siedaar, koekprobleem opgelos. Ek het destyds gedink die mense is stapelgek om dit te doen, maar namate ek agtergekom het wat 'n koek KOS, het ek die 'method behind their madness' besef. Want selfs 9 jaar gelede het 'n koek 'n klein fortuintjie gekos. Ek besluit toe om my eie koek te maak, 'n Dinosaurus nogal. Nodeloos om te se - die koek het geflop en ek moes inderhaas supermark toe jaag om klaargemaakte sponskoeke te koop. Die het ek toe uitgesny en my dinosaur 'gepak' en versier. Ons het sommer ons plastiektafel se pote uitgetrek en alles plat op die stoep neergesit sodat die kruipende of pas-begin lopende kleintjies hulleself kon help. Die koek is natuurlik in die pross verwoes, maar ten minste het almal 'n 'blast' gehad. Dis na hierdie episode dat ek besef het dat daar mense moet wees wat: A. net soos ek, NIE die geld het om tussen R400 en R1000 vir 'n kind se verjaarsdagkoek te betaal nie, of B. dalk die geld het, maar uit beginsel nie soveel geld op 'n koek wil spandeer nie. En so het ek stadigaan myself maar begin leer, uit boeke gelees en hier en daar tips gevang. Ten minste het dit gelyk of ek darem kon bak, want my kosmaakvaardighede is regtig gevaarlik min. Ek het 'n cupcake-kursus bygewoon en geoefen en geoefen en BAIE gratis koeke vir my vriende en familie gemaak en versier. My suster sal my seker tot die dag dat sy dooi, verkwalik vir die amper lewensgrootte Seerower-koek wat ek vir Nico vir sy 4de verjaarsdag gebak het, en sy moes help versier. Teen 24h00 daardie nag was sy GLAD nie meer ingenome met my nie! Ja, ek kan dit maar erken, ek gaan maar altyd so bietjie op hol met 'n ding (seker ook maar omdat ek net een kind het). Ek leef ook nogals so: Gaan groot of gaan huistoe :) En nou bak ek al amper 5 jaar lank partytjiekoeke. Ek 'spesialiseer' maar meestal in koeke soos die Barney-koek hierbo. Die troukoeke of 3D-koeke los ek vir ander mense. Tans vra ek R220 vir so koek. Ek kry amper weekliks mense wat my terugbel om te se hoe lekker die koek was. Die 'priceless' oomblikke is egter wanneer jy die verjaardagmaatjie se gesig sien as hulle die koek kom haal. Die opgewondenheid en die ogies wat skitterblink, maak die swoeg en sweet oor en oor die moeite werd. Die inkomste uit die koekbakkery help ook om broodnodige gate toe te stop, of onverwagte sport- of skooluitgawes te betaal - iets wat maar altyd daar is as jy 'n enkel-ouer is. Wat begin het as 'n lekker stokperdjie, het 'n uitkoms geword toe daar ewe skielik net een salaris was om op te leef. As jy dalk in dieselfde bootjie is, wil ek jou uitdaag: 'challenge' jouself, kyk om jou rond, identifiseer behoeftes van ander mense, besluit watter tipe dinge jy goed kan doen, en beraam 'n plan oor hoe om in ander se behoeftes te voorsien. Wees miskien bereid om 'n paar keer eers 'n diens verniet aan te bied, sodat voornemende kliente die kwalitiet van jou werk / diens kan sien. Want mense PRAAT, en as jy 'n goeie produk of diens het, SAL hulle jou verwys. Die MEESTE van my kliente wat koeke bestel, is deur 'n familielid of vriendin verwys, ek adverteer eintlik bitter min. Een ding wat ek ook al vroeg in my lewe geleer het, is dat geen werk benede my is nie (orraait, daar is EEN 'professie' wat ek beslis nie sal oorweeg nie, en dis nou om 'n dame van die nag' te wees - eerstens omdat dit heeltmal teen my beginsels is, en tweedens omdat ek regtig bang is dat ek sal moet inbetaal!!) Maar grappies op 'n stokkie - ek as mamma sal enigiets doen om seker te maak dat my kind versorg is. So drie jaar gelede het ek, behalwe vir my werk as eienaar van Galileo Books, deeltyds klasgegee by 'n Kollege EN koek gebak. Ek kan nog goed onthou hoe ek Vrydagoggende 7h15 voor die kleuterskool se hek rondgetrippel het om Nico af te laai, dan deurgejaag Pretoria-Oos toe om klas te gee. Daar klaar, het ek teruggejaag om met die naweek se koekbestellings te begin. En iewers in die loop van die middag, moes ek nog weer vir Nico gaan oplaai EN met hom speel. Dikwels teen 'n Vrydagaand was ek, hy en die meenthuis se kombuis in 'n wit lagie bedek soos ek met die versiersuiker tekere gegaan het. Soos my ma gereeld se: Arm, maar independent! Ek het die laate paar jaar ook vir Johanna, my huishulp, geleer hoe om te bak en te versier, en soms as ek haar so kyk, dan dink ek sy doen dit eintlik beter as ek! My droom vir haar is om haar binne die volgende paar jaar so op te stel dat sy kan teruggaan na haar huis toe, sodat sy daar haar eie koekbak-besigheidjie kan he terwyl sy by haar kinders is. Alhoewel ek omtrent elke dag hiper-besig is, is die koekbak en versier my 'afskakel-tyd'. Dan vergeet ek van die probleme by die werk, of hoeveel werk ek nog moet doen. Ek raak kreatief, en ontspan totaal en al, al is ek besig. En nou en dan val Nico by my in, dan maak ons Brownies (hy kan dit feitlik al heeltemal op sy eie doen!) of Rice krispie koekies of Grondboontjiebotter-koekies. So spandeer ons ook waardevolle familietyd saam. Sowat 'n week gelede het ek 'n bestelling wat die Donderdagmiddag moet klaar. Soos die noodlot dit wil he, verslaap ek toe so bietjie en kry nie kans om die eetbare prentjie vir die koek te print voor ek vir Nico by die skool moet gaan aflaai nie. Ek besluit om maar eers te gaan werk voor ek terugkom huistoe om te print. Toe ek teen 10h00 besef dat ek nou MOET ry, was ek erg omgekrap, want daar was soveel goed in die kantoor wat moes klaar. Maar soos ek huistoe ry, tref dit my HOE ondankbaar ek eintlik is: * Ek besit 'n MOTOR om in huistoe te kan ry * Ek het 'n HUIS waarna toe ek kan gaan * Ek het ELEKTRISITEIT om die printer te kan aansit * Ek het 'n REKENAAR en 'n PRINTER * Ek het die KENNIS en vermoe om op 'n rekenaar te kan werk * Ek het die TALENT om 'n koek te kan bak en versier * Ek het 'n WERK waarna ek kan teruggaan En ek ry so en ek kry BAIE skaam oor my onvergenoegdheid. Heel dikwels kyk ons so vas teen die probleem dat ons nie die seeninge daarin kan raaksien nie. Ek is eerlik as ek se dat ek regtig ook soms net wil sit en NIKS doen nie en nie van punt A na punt B jaag nie. Ek weet nie wanneer laas ek bv NET gesit en TV kyk het nie, nee, ek is gewoonlik met ten minste twee ander goed tegelyketyd besig. Maar ek weet ook dat in my besig en aan-die-gang wees, is my Hemelse Vader daar en hy DRA my. Hy het my nog nooit gelos nie, en sal ook nie. En ek glo kinderlik dat ek eendag die Hemelse rus saammet hom sal ervaar, en DIT sal 'n rus wees wat elke ander aardse rus oortref. En daaraan hou ek vas - elke dag.

Saturday, March 16, 2013

Terug op my pos!

Vandag se skryfkursus by Susan Coetzer het my opnuut laat besef hoekom ek amper drie jaar gelede begin het om te blog. En tot my spyt het die 'lewe' gebeur, en het ek een van my groot liefdes, skryf, so bietjie agterwee laat bly. Maar my liefde vir my taal (wat ek seer sekerlik by my pa ge-erf het) die het gelukkig nie gekwyn nie. Want wat doen ek (siende dat ek nie 'n man het nie en DUIDELIK nie genoeg het om in die aand te doen nie!) en Esti (dis nou my regterhand en 'saving grace' agter in Galileo Books se kantoor) amper elke dag - BBM vir mekaar spelfoute wat ons op Facebook teekom!! Ek meen: betjie (bedjie), kleure (klere), menstrihele siklis (nee...), byerig (buierig - haar spelling laat dit klink of sy iemand wil steek!) maar die beste een tans... matriek afskuit!! Ek 'beskuit' myself sommer!! Wat my die meeste pla, is dat mens sou dink hierdie slegte spellers moet mid-hoerskool of dalk in hulle vroee twintigs wees - TOE nie!! Meeste van hulle (en ongelukkig moet ek erken, 99% is vroue) is tussen 28 en 40. Shocking verby. Maar waar was ek? Ja, ek dink die eerste keer toe ek hierdie blog begin het, was dit om my wel en wee as enkel-ma neer te pen sodat ek sommer kan stoom afblaas oor my eks en sy onbetrokkenheid, sy te min onderhoudsgeld vir boeta, sy nooit-bellery, onbetroubaarheid en, en, en. En daarmee saam wou ek myseelf laat besef dat my Hemelse Vader my, ten spyte van alles wat ek die laaste paar jaar deur is, nog nie EEN dag aan my eie genade oorgelaat het nie. En ek wou net dag vir dag survive. Vandag 'survive' ek meestal (finansieel) nog steeds net van dag tot dag. Maar iewers langs die pad (of dalk met ouderdom!), het ek 'n diepe dankbaarheid opgedoen. Dankbaar vir die feit dat ek 'n kind het, 'n werk het, ondersteuning het, wonderlike familie en vriende het. En as ek teen 01:00 in die oggend die voorreg het om uiteindelik die lig af te sit, besef ek daagliks hoe geseend en bevoorreg ek is om die lewe te kan BELEEF. Met al sy OPS en AFS. So dis wat ek graag hier met jou wil deel - My lewe, DIE lewe. NET soos ek hom beleef. En as jy hier en daar iets raaklees wat jou dalk op jou lewensreis kan help / inspireer, of miskien twee keer laat dink - dan is ek bly. Want kyk - as jy 'n ouer is, plaas dit jou onmiddellik in 'n ander kategorie in die lewe, of jy nou wil of nie. En dan kry jy 'n MA - sy val onder die Gespesialiseerde divisie van ouerskap. Maar 'n Enkel-ma... SY is 'n spesie op haar eie! Ongelukkig het ek agt jaar gelede ook deel van die egskeidingstatistiek geword. Dus is 'struggle' al vir lank my tweede naam. Maar moedverloor, of tou-opgooi - NOOIT. Sekere insidente is in my kop ingeprent wat ek seker nooit sal vergeet nie, maar ons het steeds 'n keuse - 'n keuse van watter gedagtes ons in ons kop gaan toelaat en 'n keuse oor hoe ek gaan optree in 'n gegewe situasie. En ek kan jou menigte voorbeelde gee van waar ek verkeerd opgtree het - en ek sal hulle skaamteloos hier op die blog deel, sodat jy wat hier lees: a. daaruit leer en nie dieselfde fout maak nie b. besef dat ander mense ook maar baie foute maak, en dat dit ook orraait it. Dat dit MENSLIK is om foute te maak c. besef dat in ons foute en verkeerde optrede, God se genade STEEDS genoeg is Maar ek wil ook skreeusnaakse insidente, naam-slaan insidente, supertrots-op-my-kind insidente, toets-dop insidente, alles-breek-op-een-slag insidente en ek-het-nou-genoeg-gehad insidente met jou deel. Ek ek nooi jou uit - kom deel met my ook. Comment of stuur 'n epos (as jy dit op hierdie blog kan doen - ek het ne 'n clue nie - ek is Tegnies agtergeblewe!) - so maak ons mekaar se hande sterk. Tot more!